Margaret se afskeid brief

Dit was gister my laaste dag by die kerkkantoor. As ek daaraan terugdink, is dit asof ‘n wasige fliek of ‘n droom voor my afspeel. Daar is enkele helder tonele: Martin wat vir ons filterkoffie maak met Tannie Martie se masjien. Ek en hy het dikwels saam koffie gedrink toe hy nog van Stellenbosch af ingery het. Oom Kobus wat spesiaal kantoor toe kom om vir my dankie en tot siens te sê. Wow, dat hy tyd maak om by mý aan te kom! Dis te groot vir my. Die ander helder oomblik is Ina wat bel omdat dit my laaste dag is. Ek het met ander mense ook gepraat, maar dit is ongelukkig heeltemal vaag. Die laaste flits is van Francois wat my dag so spesiaal maak met ‘n pakkie, ‘n kaartjie en die mooiste brief. Gelukkig kan ek dit vanaand weer lees, want ek wou nie toé elke woord lees nie.

Van die eerste dag by die kantoor van die NGKDAB kan ek ook baie min onthou en die agt en ‘n half jaar tussen in het soos ‘n gedagte verbygegaan, maar dit is die mense wat in dié tyd my pad gekruis het, wat ek onthou. Elkeen het my lewe op ‘n baie besondere manier verryk. Ek sou soveel name kon opnoem, maar ek sal net soveel name uitlaat en daarom wil ek liewer niemand uitsonder nie. Ek dink met die mooiste herinneringe aan dié wat reeds heengegaan het en is dankbaar vir die wete dat ek die ander nog Sondae gaan sien.

Een van die dinge eie aan die kerkkantoor wat ek baie gaan mis, is dié wat kom klop het vir ‘n stukkie kos of ‘n geldjie. Daar was die een wat ‘n paar dae na mekaar gekom het en elke keer koffie gevra het. Toe hy die klokkie weer lui terwyl ek by die rekenaar besig was, sê ek vir hom dat ek werk het en nie vir almal wat by die deur kom, kan koffie maak nie. Sy antwoord het my met ‘n glimlag laat omdraai kombuis toe: “Nee, Mevrou, nie vir almal nie, net vir my!” Daar het dikwels vir lang tye niemand gekom nie, maar dié betrokke week het daar 3 gekom. Die eerste een het ‘n gestremde kind en hul gaan daardie middag uit hul blyplek gesit word as sy nie R78 betaal nie. Die volgende dag se een het ‘n man en 5 kinders en hul is uit hul blyplek gesit en die nagskuilings wil nie gesinne akkommodeer nie. Die derde een begroet my met ‘n groot glimlag toe ek by die deur kom. Ek raak aan die gesels en vra waar sy vandaan kom. Sy sê sy kom van Carnarvon en ek voel hoe my hart sag word, want dit is ‘n buurdorp van Calvinia. Ek vra haar of dit nie beter is om terug te gaan waar sy die ondersteuning van haar mense kan kry nie. Haar antwoord het háár breë glimlag op mý gesig gesit: “Nee, Mevrou, die water is darem net te brak. Ek drink liewer die soet watertjies van die Kaap!”

Dankie vir die voorreg en om by NGKDAB te werk.