Ons kerkbasaar artikel in die Kerkbode!

n Kerkbasaar op ‘n nuwe wysie
Dit is ‘n byna windstil Saterdagoggend in die Kaap. Op die Seepunt promenade neem stappers vrolik deel aan ‘n pretstap. Dit lyk asof Robbeneiland sommer naby is, so duidelik kan mens dit sien en Leeukop staan helder teen die blou lug. Dit is vanoggend die jaarlikse kerkbasaar van die NG gemeente Drie Ankerbaai, ‘n klein stadsgemeente in Seepunt. Die pragtige kerkgebou in Hoofstraat is op 9 Julie 1879 ingewy en die stigting van die gemeente is op 14 Maart 1880 aangekondig. Op ‘n bord voor op die hekkie staan die gemeente se visie: Vir gelowiges ‘n veilige hawe - ‘n anker in Christus.
Tussen die bome is veelkleurige vlaggies gespan wat deur die vroue van die gemeente gemaak is. Die klanke van ‘n kitaar en trekklavier wat boeremusiek speel en die reuk van braaivleis trek mens nader. Daar heers ‘n heerlike, ontspanne, gesellige atmosfeer. Jong ma’s en pa’s stoot hul babas in stootkarretjies rond of dra hulle in abbasakke. Kinders speel onder die bome en spring op ‘n groot springkasteel.
By die tafels vol goedkoop, tweedehandse klere soek vroue al pratende na winskope om later met groot sakke vol klere en breë glimlagte weg te stap. Die harde werk van die vorige paar weke van flukse lidmate is duidelik sigbaar. Op die koektafel is die keuse groot, van koeksisters tot kleinkoekies, melkterte tot meringues. Die ry mense wat vir ‘n warm pannekoek wag by die pannekoektafel is lank en die baksters bedrewe. Ons maak ‘n draai by die poedingtafel, want ‘n basaar sonder ‘n bakkie basaarpoeding is nie regtig basaar nie. By die blommestalletjie is dit moeilik om te kies tussen die rose en die proteas en in die voorportaal van die kerk staan daar tafels oorlaai met ou boeke. ‘n Vrolike middeljarige man, wat baie tuis is in sy vel en in sy voorskoot, help by die teetafel. By die wit-olifant-tafel koop ons drie houtkruise en by die handwerktafel ‘n pragtige, handgebreide, blou babatruitjie.
Twee mans stap huiwerig van die straat se kant af by die hekkie in. Die een dra ‘n kruis om sy nek en dit klink byna asof hulle met mekaar Frans praat. Hulle koop elkeen ‘n hamburger en gaan sit op die gras terwyl hulle dit eet. ‘n Jong man stap rond met ‘n groot speelgoed teddiebeer onder sy arm, wat hy by die kindertafel gekoop het. Twee bejaarde Engelse dames, wat deur al die vrolikheid uit hul woonstelle gelok is, sit die mense en dophou terwyl hulle tee drink en botterbroodjies eet.
Toe ons sitplek soek by die tafels onder die bome, bied ‘n vriendelike jong man sy stoel vir ons aan en ons raak aan die gesels. Hy is die orrelis van die gemeente en ‘n vriend en sy ma en pa van Boston kuier ook die oggend saam. Ons raak aan die gesels en sy ma vertel dat hulle elke jaar die kermis bywoon en dat dit die afgelope paar jaar anders is as voorheen, “Eintlik is dit nou baie lekkerder.”
Op die trappe van die kerk begin die jong dominee in ‘n denim en ‘n t-hemp, met die veiling van die uiteenlopendste goed denkbaar. Daar is “high tea” by die Mount Nelson en ‘n naweeksaand se verblyf in Roberson waarop gebie kan word. Daar is ook lewendige hasies wat vinnig deur jong ouers gekoop word, goeie pinotage, cabernet en merlot van verskillende wynkelders en sketse van wyle Hannes Meiring. “Ons het naby hulle gebly op Stellenbosch en hy was seker een van die vriendelikste ooms wat ek geken het”, verduidelik die jong dominee terwyl daar op die sketse gebie word. Die ouderling wat langs hom op ‘n stoel sit en die pryse wat die verskillende items behaal opskryf, lyk soos ‘n karakter uit Alice in Wonderland, want hy dra ‘n reuse swart keil wat vroeër die oggend op die kleretafel gelê het, om die son uit sy oë te hou.
So deur die oggend se geselligheid en kuier, wonder ek: Wat is die geheim van die gemeente? Hoe het hulle dit reggekry om so groot diversiteit van mense, oud en jonk, wit, bruin en swart, ryk en arm, so gemaklik en natuurlik te laat saamkom? Hier dien ‘n vorige administrateur van Kaapland en ‘n huiswerker saam op die kerkraad. Is dit omdat dit gewoon deel is van die gemeente se buitegewone geskiedenis? ‘n Aantal bruin mense het deur al die jare van die kerk se bestaan, gereeld die eredienste bygewoon en die gebruik is bekragtig toe die kerkraad in Augustus 1978 besluit het dat bruinmense by alle eredienste welkom sal wees. Is dit omdat die veranderinge wat hier plaasgevind het, nie gebeur het a.g.v. politieke druk of sinodale-besluite van bo af nie , maar hartsveranderinge en kopskuiwe is wat spontaan van binne af gekom het? Is dit omdat hier geen sprake is van magshierargieë nie, maar slegs van medemenslikheid? Daar is nêrens ‘n sweem van pretensie of belangrikheid nie, daar is wel doodgewone omgee en diens. Verstaan hulle Bonhoeffer se woorde,”Wie Jesus se voorbeeld wil volg, moet besef dat diens aan God en diens aan die nederigste mens vir Hom een en dieselfde ding is,” dan beter as ander gemeentes? Is die geheim dalk dat hierdie gemeente iets van die kern van gasvryheid verstaan soos Nouwen dit beskryf en dit reggekry het om vriendelike ruimtes te skep waarin daar nuwe verhoudings kan groei met mense wat skynbaar “anders” is? Is dit nie dalk een van die belangrikste funksies van kerke en gemeentes in Suid-Afrika vandag om vriendelike ruimtes te skep waarbinne mense se harte kan verander, sodat ons met sagter oë na ander kan kyk en daar op spontane wyse nuwe verhoudings oor grense heen kan blom nie?
Toe ons in die kar klim dink ek daaraan dat die knooppunt van die verhoudings en die konneksies tussen die mense van die gemeente nie ‘n “sosiale objek”, daardie “iets” waardeur mense kommunikeer en kontak maak, soos Seth Godin verduidelik, is nie. Vir gelowiges is die knooppunt van verhoudings nie ‘n “ding” nie maar ‘n “Iemand” wat tussen hulle is, ‘n lewende God wat daar is waar mense hul stories vertel en hul lewens deel. Jesus sou vanoggend se kerkbasaar baie geniet het en miskien selfs op die wyn gebie het met die oog op die volgende Nagmaal.
Bronne:
Malan, E. G. Die kerk teen Seinheuwel:Drieankerbaai 1880-1980. 1980
Nouwen, H. J. Reaching Out The three movements of the Spiritual Life. 1991.

Artikel geskryf deur Jeanette de Klerk-Luttig
Kerkbode, Februarie 2011