Ons mooi kerk vensters






Seker die mees opvallende kenmerk van Drieankerbaai se kerkgebou is die gebrandskilderde vensters, waarvan die drie oorspronklikes op Sondag 15 Maart 1885 onthul is. Die vensters is deur mnr. J.A. Bam, lid van die Wetgewende Vergadering, geskenk ter herinnering aan die dood in Hannover,Duitsland, van twee van sy drie dogters. Maria is op 22 Desember 1882 oorlede en Minnie 16 dae later op 7 Januarie 1883. Hulle was onderskeidelik 17 en 18 jaar oud. Die ruite is spesiaal vervaardig deur Alexander Gibbs van Londen.
Tydens die onthulling het ds. De Beer tydens elk van die drie eredienste (daar was in daardie stadium soggens 'n Hollandse diens en soggens sowel as saans 'n Engelse diens) een van elk van die onderwerpe van die vensters behandel.