Gedagte vir die week: Stop and smell the flowers


“Stop and smell the flowers”.

So clichè soos wat dit is moet ek dit gereeld vir myself sê. Selfs as ek op ‘n sabbat is. Ek het so twee aande gelede gaan visvang. Dit was ‘n mooi aand, windstil. En toe ek daar kom is die ouens al klaar besig om die elwe uit te trek. Die elwe loop! Ek kan nie vinnig genoeg my aas aansit nie, hardloop as’t ware tussen die ander in om ook ‘n plek te kry, ek gooi in.... my aas land skaars en die elf vat . Ek het hom. In ‘n ommesentjie vang ek ‘n hele paar elwe, maar nie sonder ‘n  gesukkel om plek op die rotsmuur te kry nie, te koes vir ‘n hoek verby jou kop nie. In die gejaag het ek so nou en dan rondom my gekyk, gesien hoe dit donkerder word en die kleur van die lig gesien verander, maar nie regtig gekyk nie want die elwe loop.

Dit was eintlik niks lekker nie. Selfs op sabbat, terwyl jy visvang, kan jy so gejaag raak dat jy die oomblik waarin jy is mis, die mooiste oomblik in die dag mis. Die oranje, rooi en pienk van die lug mis soos die son sak. Jy kan so gejaag raak dat jy die oomblik mis wat jou kind jou net ‘n drukkie wil gee, die oomblik wat jou vriend of vriendin jou in die oë kyk met verlange. Die oomblik as die son sak. God openbaar Hom ook hierin, Sy skepping. Jy kan ook vir God mis. So al loop die elwe, stop en asem die dag in.

Martin Steyn