Sandkasteel...




Toe die winter en die koue en die reën die afgelope maand so op ons toeslaan hier in die Kaap, was ons bevoorreg om vir twee weke  by Umhlanga Rocks aan die Natalse noordkus te gaan uitspan. Daar was elke dag perfek met sonskyn en ek kon soggens vir `n uur ver langs die strand stap met `n kort broek en voete in die lou water van die Indiese Oseaan. En terwyl ek my elke oggend verwonder het aan die Wonder van die Skepping het ek ook `n paar baie eenvoudige lesse geleer. Ek het my verkyk aan al die voetspore in die sand van mense wat pas voor my daar gestap het en toe kom daar `n brander en hy spoel oor daardie spore en neem dit heeltemal weg. En ek besef maar dit is presies wat die Here vir my doen as Hy in Sy groot genade en liefde die verkeerde dinge in my lewe wegneem---vir altyd! En ek het my elke oggend verwonder oor wat Hy vir my beteken.

En toe leer ek nog `n les . Kinders het `n pragtige sandkasteel gebou en dit te pragtig versier. Hulle het selfs `n sandwal gebou om die kasteel te beskerm. Maar toe begin dit hoogwater raak en net toe ek daar verbystap kom daar `n stewige brander en met een slag is alles daarmee heen---die keerwal, die netjies geboude kasteel en al die torinkies!  En net daar leer die Here vir my nog `n waardevolle les. Ons is maar alte geneig om op aardse dinge te vertrou en kan so maklik vergeet waaraan ons alles te danke het. En ek dink daaraan “My tye in in U hande”
 
Kobus Meiring
Hoofouderling